Archive for Augustus, 2008

My hart se punt(e)….

Dis nou Francois op 14maande en Bula (Renier) op 14 en ‘n halwe jaar. Hulle word net mooier en mooier by die dag…. Sal julle op hoogte hou!

Augustus 5, 2008 at 12:08 nm 7 Kommentaar

Liewe Kopdokter….

Ek is hier op aandrang van my dokter. Hy weet van my dogterjie, fok, almal weet, maar niemand weet hoe ek voel nie en ek het nie die krag om daaroor te praat met iemand nie want ek soek nie simpatie nie. Meeste mense redeneer mos, ek het haar nie geken nie, so hoekom huil ek? Ja, hoekom huil ek? Hoekom voel ek skuldig oor haar dood? Hoekom voel ek soos ‘n slegte ma? Ek moes mos geweet het daar is fout? Nou die drome oor haar – wrede, egte drome – om vir my wat te sê? Om my te herinner dat ek my dogtertjie gefaal het?

Die Vrydagaand het ek gedroom Marlene is dood, en Saterdagoggend kielie ek my groot pens en sy gee ‘n wilde skop in my sy, ek glimlag… dit was die laaste skop. Ek het gaan shower – sy was mal daaroor  – en daar is niks! NIKS! Weet jy hoe dit voel? Ek is dadelik kliniek toe vir die sonar. Nog nooit het ek ‘n sonar so fyn dopgehou soos daardie Saterdag nie, wil nie my oë knip nie want ek is bang ek mis ‘n beweging of ‘n hartkloppie… daar was NIKS.

Hospitaal toe. Nee sy’s dood – jammer. Eers word daar gesê ek moet normaal “kraam” en my senuwees was klaar. Gelukkig 😦 het sy teveel gedraai en moes ek ‘n keiser kry. Epidural. Ek’s wakker terwyl hulle my “hart” uit my ruk!!!!!!!!!! Ek wil nie kyk nie, ek wil haar nie sien nie, die kind wat ek vermoor het. Ek word in ‘n kamertjie gesit saam ander ma’s MET BABAS! Ek huil en die dokter sê ek moet  my eie kamer kry – steeds in die kraamafdeling…. deur die nag huil die babas en ek wil opspring en troos – maar dis nie myne om te troos nie – ek wil van my kop af raak.

Word ontslaan en stap uit die hospitaal uit met ‘n sak vol babaklere en produkte en ‘n leë “carrycot”. Gaan huistoe en klim in die bed. Trek die kombers oor my kop en wil net slaap. Ek kan nie, ek het vir Renier wat ook hartseer is en ek moet sterk wees vir hom, daar is nie tyd vir tjank en depro wees nie, daar is nog ‘n kind wat my nodig het.

Ek e-mail vir John Edward van Crossing Over om te hoor waar is sy, wie kyk na haar ? Is sy warm en okay? Al antwoord wat ek kry, is dat sy by familie is wat reeds oorlede is – Ouma Bekkie? Oupa Dad? Pappa? Oom Boet? Moet ek nou beter voel? Ek wou na haar gekyk het, met haar gespeel het, daar gewees het met haar eerste skooldag, haar eerste kêrel en hartseer, met haar baklei het oor haar kleredrag en slegte maatjies, saam haar gelag het oor simpel dogtertjie goed, haar matriekafskeid, haar troue….

Ja ek mis haar elke dag –  party dae is dit erger wat ek net wil slaap en tjank, ek dink daaraan dat ek geglimlag het toe sy haar laaste skop gegee het!!!!! My kindjie het versmoor en ek glimlag!!!! Hoe siek kan jy kry? Ander dae kan ek glimlag en glo sy’s oraait… Nee wat, niemand gaan of kan my anders oortuig nie, om ‘n kind te verloor is die wreedste ding wat kan gebeur met ‘n gesin. Ek voel “useless” en dink ek is nie goed genoeg om ‘n kind in die wêreld te bring nie… Eks goed genoeg vir niks…

Vandat sy dood is, maak ek veertjies bymekaar – wittes. Ek glo vas dit is sy wat my wys dat sy by my is. Ek het ‘n hele juwelekissie vol veertjies. Dis al vier en ‘n halwe jaar….

Dokter? Ek sal weer met jou kom praat, vir jou my “scrapbook” wys wat ek vir haar gemaak het.  Briefies wat ek vir haar geskryf het…

Maar jy sê niks, ek wil net hê jy moet luister….

Augustus 1, 2008 at 12:45 nm 2 Kommentaar


Kalender

Augustus 2008
M D W T V S S
 123
45678910
11121314151617
18192021222324
25262728293031

Posts by Month

Posts by Category